2007 Mianmarese anti-regeringsbetogings

Betogers in Yangon. Die boodskap op die banier lees Nie-geweld: Nasionale Beweging in Birmaans
Betogers op pad na die Chinese konsulaat in Chicago

Die 2007 Mianmarese anti-regeringsbetogings was 'n golf betogings wat op 15 Augustus 2007 in Mianmar (wat ook as Birma bekendstaan) begin het. Die betogings het begin nadat die regerende militêre junta brandstofsubsisdies opgehef het wat gelei het tot 'n styging in die prys van brandstof van sowat 500%.[1] Die aanvanklike betogings wat deur opposisie politieke aktiviste en studente gelei is, is vinnig en fel onderdruk en tientalle betogers is gearresteer en aangehou.

Op 18 September is nuwe betogings deur duisende Boeddhiste monnike begin. Nadat die betogings aanvanklik vreedsaam verloop het, het die regering op 26 September in weerwil van internasionale oproepe tot beheersing op brutale wyse ingegryp om die protesaksie te onderdruk.[1][2] As deel van die regeringsoptrede is aandklokreëls in Yangon en Mandalay ingestel, openbare internettoegang is afgesny, traangas is gebruik om betogings op te breek, honderde betogers is in hegtenis geneem en monnike is geslaan. Daar is ook met masjiengewere[3][4] op betogers gevuur en 'n aantal betogers en 'n Japannese fotograaf is doodgeskiet. Teen 28 September het die regeringsmagte daarin geslaag om die meeste van die massabetogings te onderdruk en moes slegs klein groepies aktiviste verjaag word. Die monnike is deur middel van geslote hekke, doringdraadversperrings en wagte om kloosters daarvan verhoed om verder aan die optogte deel te neem.[5]

Aangesien die regering buitelandse joernaliste verhinder om die land in te gaan, kom die meeste verslae oor en beelde van die gebeurtenisse van skrywers van webjoernale en ander ongeïdentifiseerde bronne.[6] Die meeste van die land se internetskakels na die buitewêreld is egter geknip, selfoonseine is geblokkeer en daar was byna geen telefoniese verbindings nie. Alhoewel die regering die buitelandse media vir die betogings blameer, beweer hulle dat hierdie skielike breuk in kommunikasieverbinding die gevolg was van 'n beskadiging aan die land se onderwaterse, hoof-internetkabel.[7]

Die Mianmarse regeringsoptrede is wêreldwyd verdoem en sanksies is deur die Verenigde State ingestel terwyl die Europese Unie bestaande sanksies teen die land uitbrei. Beswaar is ook in verskeie lande op diplomatieke vlak en by die Verenigde Nasies aangeteken insluitend deur buurlande soos Indië[8] en Thailand.[9] Die VSA en die Europese Unie het ook 'n oproep gemaak vir strafmaatreëls, samesprekinge met die opposisie leier en Nobelpryswenner Aung San Suu Kyi en etniese minderheidsgroepe deur die Verenigde Nasies Veiligheidsraad, maar China, wat as permanente lid van die Veiligheidsraad vetoreg het, het egter aangedui dat die land nie ten gunste van sulke stappe is nie.[10] Rusland en China, wat vriendskaplike bande met die Mianmarse regime het, het in Januarie 2007 hulle vetoreg gebruik teen 'n ontwerpsresolusie, wat deur die VSA opgestel is, waarin die junta versoek is om die vervolging van minderhede en die opposisie te staak.[10]

Suid-Afrika se Nobelvredespryswenner Desmond Tutu het 'n beroep gedoen op China om in te gryp om "hierdie brutale mans aan te sê om hulle brutaliteit te staak". Hy het bygevoeg dat as Sjina nie sy invloed oor die regering sou gebruik nie hy hom sou skaar by 'n veldtog om die Beijing Olimpiese spele in 2008 te boikot.[11]

  1. 1,0 1,1 Monks pressure Myanmar junta.
  2. UN envoy warns of Myanmar crisis
  3. BurmaNet News Geargiveer 29 September 2007 op Wayback Machine, Irrawaddy: International Pressure Building on Burma – Lalit K. Jha Geargiveer 26 Julie 2011 op Wayback Machine, besoek op 29 September 2007
  4. abs NEWS, Myanmar Soldiers Fire Weapons Into Crowd, besoek op 29 September 2007
  5. abs NEWS, Troops Take Back Control in Myanmar, besoek op 29 September 2007
  6. Japanese journalist shot to death covering protests in Burma, by die USA Today. Laaste besoek op 29 September 2007.
  7. Junta tightens media screw by die BBC-nuuswerf. Laaste besoek op 29 September 2007.
  8. "Political reform in Myanmar should be broad-based, says India", Times of India, September 26, 2007
  9. "In quotes: Burma reaction" (in Engels). BBC News Online. 27 September 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 April 2020. Besoek op 27 September 2007.
  10. 10,0 10,1 The Star, Malaysia, West seeks U.N. sanctions on Myanmar, China says "No" Geargiveer 12 Augustus 2011 op Wayback Machine, besoek op 29 September 2007
  11. Desmond Tutu vädjar till Burmas ledare Geargiveer 29 April 2011 op Wayback Machine Dagens Nyheter, September 28, 2007.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search